FOTO Micky Hoyle 

SARIE KOS Augustus/September 2014

FOTO Micky Hoyle SARIE KOS Augustus/September 2014

Nagereg

Pannekoek met Nutella

In Parys kry jy pannekoek met Nutella-vulsel net waar jy kyk. Ek dink die Parysenaars is behoorlik verslaaf daaraan.

genoeg vir 15 pannekoeke

• 500 ml warm melk
• 65 ml botter, gesmelt
• 175 g (315 ml) koekmeel
• 2,5 ml sout
• 2,5 ml suiker
• 3 eiers
• 12 ml sonneblomolie
• 125 ml bier
• 100 g gepelde haselneute
• sowat 100 ml gesmelte botter
• 1 x 750 g-bottel Nutella

Verhit melk in ’n kastrol. Voeg gesmelte botter by warm melk. Meng meel, sout en suiker saam in mengbak van ’n elektriese menger. Klits eiers en sonneblomolie saam. Maak holte in middel van droë bestanddele. Skakel menger aan en gooi geklitste eiermengsel in holte. Klits goed. Voeg botter-melkmengsel by en klits goed om klonte te vermy. Skakel masjien af en voeg bier by. Meng goed. Druk mengsel deur ’n sif in ’n bak ingeval klonte gevorm het. Maak bak met pannekoekbeslag toe met kleefplastiek en plaas in yskas vir verkieslik 8 uur of oornag. Verhit ’n kleefvrye pan en gooi haselneute in. Braai neute tot bruin, kap grof en hou eenkant. Verhit ’n kleefvrye pannekoekpan en smeer met bietjie gesmelte botter. Gooi dun lagie pannekoekbeslag in pan. Bak tot borrels begin vorm en draai om. Bak nog so 2 minute. Skep ’n groot lepel Nutella op pannekoek en smeer dit effens plat. Vou pannekoek in helfte en dan weer in helfte. Haal uit en hou warm. Herhaal met res. Plaas 2 pannekoeke op ’n bord en sif bietjie versiersuiker oor. Sprinkel neute oor en sit voor met sjokolade-Nutellasous en vanieljeroomys.

Sjokolade-Nutellasous
• 125 ml room
• 60 ml Nutella

Gooi room in ’n kastrol. Voeg Nutella by en verhit tot Nutella gesmelt het. Gooi in bekertjie en sit warm voor