Foto deur Donna Lewis SARIE KOS OKT/NOV 2012

Diabeties

Sjokoladeglasies met soet kompot

Resep deur Annerien Vermeulen

Nageregte en gebak is my spesialiteit. Daarom dat ek besluit het om iets besonders voor te sit  vir hierdie baie spesiale ete: ʼn sjokoladeglasie met bessikompot. ʼn Kompot is vrygte wat bv. in suikerwater gestoof is. Ek gebruik versoeter om dit gesond te hou. Die nagereg lyk mooi so in die glasie. Jy kan ook donkersjokolade-krulle of- skaafsels gebruik om dit te versier.

Genoeg vir 8 mense 

Bessiekompot

  • 500 g bevrore somerbessies (kan vars ook gebruik indien beskikbaar)
  • 50 ml water
  • 30 – 40 ml versoeter (afhangend van eie smaak)
  • 15 ml kersielikeur (kirsch)

Plaas bessies in ’n kastrol saam met die water. Kook oor lae hitte tot die bessies ontdooi is. Gooi die versoeter by en kook nog 3 – 4 minute. Verwyder van hitte en roer kersielikeur by. Hou eenkant.

Sjokoladeglasies

  • 100 g donkersjokolade (minimum van 70% kakao), gekap
  • 25 ml laevet-margarien
  • 2 eiers, geskei
  • 60 ml versoeter

Smelt die sjokolade saam met die margarien in ’n glasbak bo-oor ’n kastrol met kokende water. Moenie dat die glasbak aan die kokende water raak nie. Meng goed en verwyder van hitte. Laat bietjie afkoel. Klits die eiergele en roer by die sjokolade in. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en roer dan die versoeter lepel vir lepel by. Klits tot glansend. Klop eers ’n derde van die meringue-mengsel in by die sjokolade-mengsel en vou dan die res van die meringue-mengsel in. Skep die mengsel in ’n plastieksak en sny ’n gaatjie in die een punt. Spuit die mengsel tot op ’n hoogte van 2/3 in 8 klein sjerrieglasies. Skep van die bessiekompot bo-oor en plaas in yskas om te stol.