Nagereg

Trifle met Oreo’s, karamel en donkersjokolade

Wat is Kersfees sonder trifle? Probeer dié een met sjokolade en karamel.

genoeg vir 10

• 2 x 176 g-bokse Oreo-koekies (of enige ander sjokoladekoekie)
• 15 ml gelatien
• 50 ml water
• 3 eierwitte
• 210 g (250 ml) strooisuiker
• 2 x 360 g-blikke karamelkondensmelk
• 80 ml melk
• 500 ml winkel-vanieljevla
• 1 ronde winkel-sjokoladekoek
• 60 ml sjerrie
• 125 ml room
• 200 g donkersjokolade

Krummel koekies tot growwe mengsel en gooi helfte onderin 3 liter-glasbak. Week gelatien in water tot sponsagtig. Klits eierwitte met elektriese klitser by hoë spoed tot sagte punte vorm. Hou aan klits terwyl jy suiker geleidelik byvoeg. Klits tot blink en styf. Hou eenkant. Plaas inhoud van een blik kondensmelk en melk in glasbak en verhit 3 minute in mikrogolfoond. Roer met draadklitser tot gladde mengsel. Gooi geweekte gelatien by en roer weer tot gladde mengsel. Vou eierwitte by mengsel in en gooi oor koekies. Skep lepels vol van oorblywende blik karamel bo-op – dit sal wegsink in die mousse. Laat stol 3 uur in yskas. Gooi vla bo-oor en pak skywe koek bo-op. Sprinkel sjerrie oor. Smelt room en sjokolade saam in mikrogolfoond tot gladde mengsel, gooi oor koek en laat stol nog 1 uur in yskas. Strooi oorblywende koekiekrummels bo-op en sit voor.