tru041
Nagereg

Wafel-en-sjokoladejaffel

Genoeg vir 6

Braaityd: 5 – 10 minute

  • 1 blik (410 g) pere, gedreineer
  • 1 bottel (350 g) sjokoladesmeer
  • 12 winkelwafels
  • versiersuiker om oor te sif

Sny pere in klein blokkies. Meng met sjokoladesmeer. Smeer die jaffelpan met botter en nie die wafels nie. Plaas een wafel in die pan. Skep van die vulsel in die middel en plaas nog ’n wafel bo-op. Maak jaffelpan toe, plaas op jou stoofplaat en braai sowat 5 minute aan die een kant. Draai om en braai nog sowat 5 minute aan die ander kant tot dit goudbruin en bros is. Herhaal met die res van die bestanddele. Sif versiersuiker oor en sit voor saam met vanieljeroomys en gekapte haselneute.

OM TE WEET

Die winkelwafels pas presies in ’n jaffelpan.

Nog Vulsels

  • Skep ’n groot lepel karamel uit ’n blik bo-op ’n wafel en volg resep soos bo.
  • Dreineer 1 blik (410 g) ingelegde appels. Sny appels in blokkies, voeg  25 g (30 ml) strooisuiker en 1 ml fyn kaneel by. Meng goed. Gebruik as vulsel en sit voor met roomys of styfgeklopte room.