FOTO Micky Hoyle

FOTO Micky Hoyle

Nagereg

Witsjokolade-panna cotta

6 porsies

• 15 g gelatien
• 180 g (225 ml) suiker
• 5 ml vanielje
• 100 g goeiegehaltewitsjokolade, in blokke gebreek
• 500 ml melk
• 500 g Griekse jogurt
• aarbeie
• versiersuiker om te sif
witsjokolade-krulle

Plaas gelatien in klein bakkie en gooi klein bietjie koue water oor. Laat stol. Gooi kookwater in nog ‘n klein bakkie en plaas eerste bakkie op die bakkie met kookwater. Laat gelatien smelt. Sit suiker, vanielje, sjokolade en melk in ’n kastrol. Plaas op lae hitte en laat smelt. Haal van hitte af en voeg gesmelte gelatien by. Gooi jogurt by en meng goed. Verdeel in bakkies en sit in yskas. Laat stol. Plaas aarbeie bo-op en sif versiersuiker oor. Versier met witsjokolade-krulle.

Maak só witsjokolade-krulle
Sit sjokolade-sirkels in ’n glasbak wat oor ’n kastrol sal pas. Tap water in die kastrol, bring tot kookpunt en haal van hitte af. Plaas bak oor kastrol – dis baie belangrik dat die bak nie aan die warm water raak nie. Roer so elke nou en dan tot gesmelt. Smeer sjokolade op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is of ’n marmerblad. Laat sjokolade heeltemal hard word. Neem ’n lang skerp mes en plaas met lemkant bo-op die sjokolade. Hou die mes met albei hande – een aan die handvatsel en die ander hand aan die punt van die mes. Trek die mes na jou toe en só sal die skaafsels of krulle vorm.