Foto deur Micky Hoyle

Nagereg

Witsjokolade-truffels

(sowat 36 truffels)
PRALIEN-VULSEL

  • 100 g (125 ml) suiker
  • 15 ml water
  • 100 g gepelde haselneute
  • 100 ml room
  • 100 g witsjokolade, in stukke gebreek

Sit suiker en water in ’n diep pan. Laat smelt oor lae hitte. Moenie roer nie, maar skud die pan so elke nou en dan. Laat kook tot suiker ’n karamelkleur kry. Haal van hitte af en voeg haselneute by. Meng goed. Gooi uit op ’n bakplaat wat uitgevoer is met goed gesmeerde bakpapier. Laat heeltemal koud en hard word. Breek pralien in stukke, kap baie fyn in ’n voedselverwerker en hou eenkant. Verhit room tot net voor kookpunt en gooi oor witsjokolade. Roer van tyd tot tyd tot gesmelt. Laat afkoel en voeg fyngekapte pralien by.

TRUFFEL-VORMS

  • 2 boksies (150 g elk) witsjokolade-sirkels

Plaas witsjokolade-sirkels in ’n glasbak wat oor ’n kastrol met water sal pas. Bring water tot kookpunt en haal van hitte af. Sit bak op kastrol – dis baie belangrik dat die bak nie aan die warm water raak nie. Roer nou en dan tot gesmelt. Gebruik ’n klein kwassie en verf ’n silikoonvorm met die gesmelte sjokolade. Verf nog ’n laag. Laat sjokolade hard word. Skep van pralien-vulsel in vorms en maak gelyk. Sit in yskas tot hard. Keer versigtig uit. Gebruik nog ’n bietjie gesmelte sjokolade om twee vorms aan mekaar te sit en truffels te vorm. Hou in yskas tot benodig.

Wenk: As die witsjokolade hard word, kan jy dit weer smelt. Plaas net jou bak weer oor kookwater.