sr0912kos_8_
Kosstories

Vinnige aandetes met gaar hoender

Toor blitsvinnig hierdie 5 aandetes op met gaar hoender. Dis oral te koop en nie veel duurder vir die gerief nie!

Vir my persoonlik is die supermark se gaar rotisserie-hoender baie smaaklik met sy bros velletjie, om nie eens te praat van die gerief daarvan nie! Met dié resepte kan jy binne 20 minute ‘n gereg opdis.

Liezl  se resepte

Geurige kerriehoender-tortillas

Geurige kerrie-honder-tortilla

Genoeg vir 2

  • 3 ml komyn
  • 3 ml vinkelsaad
  • 2 ml Garam-masala
  • 2 ml borrie
  • 250 ml Bulgaarse jogurt
  • 2 gaar hoenderborsies, gevlok
  • sout en peper
  • 6 klein tortillas
  • 1 suurlemoen

Plaas alle speserye in ’n vysel en maal fyn. Voeg die speserye by die jogurt en meng goed. Vou die jogurt deur die hoender en geur met sout en peper.

Verhit die tortillas volgens die aanwysings op die pakkie. Vul elke tortilla met hoender. Sit dadelik voor met suurlemoen-wiggies.

Wenk: Gebruik klein tortillas, dis goedkoper en dit lyk asof daar meer kos is!

Filo-hoenderpastei in 20 minute

Phyllo-hoenderpastei

Hierdie mooi, romerige pasteitjie lyk asof dit ure gevat het om te berei!

Genoeg vir 2 pasteie

  • 15 ml olyfolie
  • 10-15 sampioene, gesny
  • 25 ml room
  • 5 tiemietakkies, gekap
  • 1 gaar hoenderborsie, gevlok
  • sout en swartpeper
  • 2 filodeeg-velle, gehalveer
  • 30 ml botter, gesmelt

Verhit oond tot 180 °C.

Verhit ’n pan met olyfolie. Braai sampioene in pan tot halfgaar, voeg room en tiemie by. Laat toe om te kook en te verdik. Voeg gevlokte hoender by en geur met sout en peper. Verwyder van hitte en hou eenkant.

Plaas gehalveerde deegvelle bo-op mekaar en sny twee vierkante uit. Verf elke vierkant met botter en plak op mekaar sodat elke vel se hoekies sigbaar is. Plaas in ’n groot muffin-pan. Skep die hoendervulsel in en bak vir 5-8 minute totdat die deeg goudbruin is. Sit warm voor.

Wenk: Geur jou botter waarmee jy die filo verf met tiemie vir ekstra geur.

Hoender-en-pruimslaai

Hoender-en-pruim-slaai

Dié slaai is perfek vir ’n warm dag.

Genoeg vir 2

  • 100 g slaaiblare van jou keuse
  • 4 pruime, in 8 gesny
  • 50 g bosbessies
  • 2 gaar hoenderborsies, gevlok
  • 30 ml olyfolie
  • sout en swartpeper

Plaas slaaiblare, pruime en bessies in ’n bak en meng goed deur. Verdeel tussen opdien-borde. Plaas hoender bo-op elk, sprinkel met olyfolie en geur met sout en peper.

Wenk: Die pruime en bosbessies kan effens suur wees, sit daarom voor met ’n romerige slaaisous.

Spaanse-hoender-kebabs

Spaanse hoender-kebabs

Sit hierdie kebabs voor met pangebraaide tamaties vir ’n Spaanse flair.

Genoeg vir 2 (4 kebabs)

  • 1 hoenderborsie, in blokkies gesny
  • 1 (115 g) chorizoworsie, in ringe gesny
  • 15 ml olyfolie
  • 50 ml hoemoes
  • sosatiestokkies

Ryg stokkies met hoender-blokkies en chorizo-ringe. Verhit ’n pan met olyfolie en braai sosaties oor ’n lae hitte om warm te word. Sit voor met hoemoes.

Oop hoender-en-avokado-broodjie

Oop hoender-avo-broodjie

Genoeg vir 2

  • 2 ciabatta-broodjies
  • 2 uie, gesny
  • 30 ml olyfolie
  • 80 g botter
  • 1 (115 g) briekaas-driehoek, opgesny
  • 2 avokado’s

Rooster broodjies in ’n pan of toeplak-rooster. Hou eenkant.

Verhit ’n klein potjie met olyfolie en botter. Voeg ui by en braai 7-10 minute tot sag en verbruin om uie te karamelliseer. Draai hitte af.

Opsioneel: Plaas snytjies briekaas in die oond teen 180 °C vir 2-3 minute of karamelliseer met blaasvlam vir ekstra kleur en geur op die broodjie.

Vir opdiening, plaas uie op broodjie, dan die hoender en briekaas en sit die avokado heel laaste bo-op.

Wenk: Strooi rissievlokkies na smaak oor die avokado om die smaak daarvan te lig.

 

Ek hoop die resepte help hierdie week met ’n vinnige aandete ná ’n lang dag!

Klits-en-Klets Kok

Liezl

Klits-en-Klets Kok Volg my nou ook hier en kook saam

Twitter: @KlitsenKletsKok

Facebook: Klits en Klets Kok

Instagram: klitsenkletskok