Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS JUNIE/JULIE 2013

Pluimvee

Eend-confit met kersiesous

Confit is ʼn fênsie Franse naam vir vleisgeregte of groente in vet gaarmaak. Dis nie moeilik nie, maar jy moenie haastig wees nie
(genoeg vir 6)

  • 2½ kg growwe sout
  • 6 eendporsies (dy en boud)
  • 7 jenewerbessies (juniper)
  • 3 lourierblare
  • 9 takkies vars tiemie
  • 3 x 330 g-houers eendvet

Gooi helfte van die sout in ’n plat bak. Pak die eendporsies in ’n enkellaag boop die sout. Plaas die jenewerbessies, lourierblare en 4 takkies tiemie bo-op. Maak eend heeltemal toe met res van sout. Plaas in yskas en laat staan oornag. Haal eend uit sout en spoel goed af om van sout ontslae te raak. Maak porsies droog met kombuispapier. Verhit oond tot 140 °C. Plaas eend in oondbraaibak. Skep al die eendvet koud bo-op die eendporsies saam met 5 takkies tiemie. Plaas in oond vir 3 – 3½ uur. Haal uit oond. Die eend sal nou gaar wees – jy sien dit aan die vleis wat van die been begin aftrek. verhit ’n pan en haal die eendporsies versigtig uit vet. Vee oortollige vet af met kombuispapier. Plaas velkant na onder in warm pan en braai sowat 2 – 3 minute tot vel bros is. Draai om en braai nog so 2 minute. Sit warm voor saam met kersiesous.

Kersiesous

  • 2 x 425 g-blikke ontpitte swart kersies
  • 25 g (30 ml) bruinsuiker
  • 1 ster-anys-peul
  • 300 ml rooiwyn
  • 300 ml rooi port

Dreineer kersies in ’n vergiettes. Plaas kersies, suiker, ster-anys, rooiwyn en port saam in ’n kastrol. Meng goed en bring tot kookpunt. verlaag hitte en laat prut oop vir 1 uur tot sous verdik het. Sit warm voor saam met eend.

Hoe om eend-confit te bêre:

  • Die sout dien as preserveermiddel.
  • Wanneer die eend uit die oond gehaal word, moet dit in die vet afkoel.
  • Plaas eendporsies in groot gesteriliseerde glasbottels en bedek heeltemal met eendvet.
  • Dit kan nou tot 6 maande in die yskas gehou word.
  • In ’n plastiekbak sal dit net sowat 6 weke in die yskas hou.