sr1301_kos
Pluimvee

Eend-lam-en-sampioenterrien

(genoeg vir 10)

  • 4 lourierblare
  • 3 takkies tiemie
  • 250 g strepiespek
  • 2 eiers
  • 30 ml brandewyn
  • 125 ml room
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 hand vol Italiaanse pietersielie, fyngekap
  • 4 knoffelhuisies, fyngekap
  • 550 g (sowat 4) eendborsies, vel verwyder en in blokkies gesny
  • 350 g lamsblokkies
  • 100 g hoenderlewers
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 250 g bruin sampioene, fyngekap
  • 100 g okkerneute

Verhit oond tot 180 °C. Voer ’n broodpan van 35 x 10 cmmet kleefplastiek uit. Plaas lourierblare en takkies tiemie onder in. Voer die pan uit met repies spek, wat jy oor die breedte plaas. Hou spek wat oorbly eenkant. Plaas res van bestanddele behalwe sampioene en neute in voedselverwerker.Verwerk op hoë spoed tot gladde mengsel. Geur goed met sout en peper.Meng sampioene en neute by. Skep mengsel in uitgevoerde broodpan. As daar spek oor is, pak dit bo-op. Bedek pan met foelie en plaas in oondbak. Vul bak met warmwater. Bak vir 90 minute.Haal uit oond en laat in waterbad afkoel. Plaas vir 6 – 8 uur of oornag in yskas. Sit voor met slaai van jou keuse en agurkies.