sk0812spysvir204
Pluimvee

Geroosterde baba-hoendertjies

(2 porsies)

  • 2 baba-hoendertjies (petits poussins)
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • sowat 4 vars tiemietakkies
  • 125 g repiespek (streaky bacon)
  • sowat 50 ml olyfolie
  • sap van 1 suurlemoen
  • 2 tamaties, in dik skywe gesny

Rösti

  • 5 aartappels, geskil en gerasper
  • 1 eier
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 100 ml sonneblomolie

Verhit jou oond tot 180 °C. Geur die hoendertjies met sout en swartpeper. Vryf knoffel oor hulle en plaas vars tiemie binne-in. Draai die spek om die hoenders en steek vas met ’n tandestokkie aan die onderkant. Gooi die olyfolie in ’n oondroosterbak en sit die hoenders daarin. Gooi die suurlemoensap oor en maak die bak toe met tinfoelie. Sit in die warm oond. Haal die tinfoelie ná 30 minute af. Rooster verder vir nog 1 uur. Plaas tamatieskywe saam met die hoenders in die bak so 10 minute voor jy wil opskep. Meng intussen die aartappels en eier in ’n mengbak. Geur met sout en swartpeper. Verhit die olie in ’n pan. Skep ’n groot lepel vol van die mengsel in die olie en braai tot bros en goudbruin. Dreineer op kombuispapier. Sit die hoender en rösti saam met vars aspersies voor.