Pluimvee

Gestopte hoenderborsies met ertjies en uie

4 porsies

  • 225 g fetakaas, gekrummel
  • 40 ml fyngekapte pietersielie
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 1 eier, effens geklits
  • 4 hoenderborsies
  • 30 ml olyfolie
  • sap van halwe suurlemoen
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 15 ml olyfolie
  • 10 ml botter
  • 1 ui, in dik skywe gesny
  • sowat 800 ml bevrore ertjies

Verhit oond tot 180 °C. Meng fetakaas, pietersielie, knoffel en eier. Sny ’n opening in elke hoenderborsie. Skep ’n groot lepel van die vulsel in elkeen en plaas borsies in ’n oondbak. Sprinkel die 30 ml olyfolie en suurlemoensap oor. Geur met sout en swartpeper. Wees net versigtig met die sout, want fetakaas is reeds sout. Rooster vir sowat 45 minute. Verhit 15 ml olyfolie en botter saam. Braai ui daarin tot sag. Kook ertjies en dreineer. Voeg ertjies by gebraaide ui. Sit hoender voor saam met ertjies en uie.