Middel van die week

Hoender-en-sampioenpastei

(30 minute – 4 porsies)

  • 30 ml botter
  • 10 sprietuie, in repies gesny
  • 250 g witsampioene, in kwarte gesny
  • 15 ml meel
  • 250 ml melk
  • 125 ml room
  • 1 gaar hoender, ontbeen en gevlok (koop dit op pad huis toe)
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 1 vel (400 g) klaargekoopte blaardeeg
  • 1 eier, geklits

Verhit jou oond tot 220 °C. Smelt die botter in ’n pan en braai die sprietuie vir so ’n minuut. Voeg die sampioene by en braai vir 5 minute. Voeg die meel by en meng goed. Gooi die melk bietjie vir bietjie by, en daarna die room. Hou aan met roer tot die sous verdik – so 2 minute. Voeg die gevlokte hoender by en geur met sout en peper. Gooi die mengsel in ’n oondbak van omtrent 20 cm x 20 cm. Plaas die blaardeeg bo-op en verf dit met die geklitste eier. Bak vir 15 tot 20 minute totdat die deeg bros en goudkleurig is.