Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS OKT/NOV 2012

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS OKT/NOV 2012

Pluimvee

Hoender-saté

Pak dit op ʼn groot bord sodat almal met die hand kan eet.

Genoeg vir 6

  • 12 ontbeende hoenderdye sonder vel

Marinade

  • 1 sitroengras-stingel, fyngesny
  • 2 knoffelhuisies, in skywe gesny
  • 5 ml borrie
  • 7 ml fyn vinkel
  • 7 ml fyn komynsaad
  • 45 ml sonneblomolie

Meng al die bestanddele saam en maak aan tot ’n pasta. Plaas die hoender in dié marinade en vryf dit deeglik in. Laat marineer vir sowat 2 – 3 ure. Maak intussen die saté-sous.

Saté-sous

  • 10 ml koljandersaad
  • 5 ml vinkel
  • 5 ml komynsaad
  • 6 droë brandrissies, geweek in warm water tot sag
  • 6 klein (piekel)uie
  • 1 knoffelhuisie
  • 30 ml sonneblomolie
  • 180 ml korrelrige grondboontjiebotter
  • 250 ml klappermelk
  • 30 ml suurlemoensap
  • 30 ml water
  • 5 ml bruinsuiker

Stamp die droë speserye met ’n stamper en vysel fyn. Kap die rissies, uie en knoffel baie fyn. Verhit die sonneblomolie in ’n pan en voeg die speserye en rissie-pasta by. Braai vir sowat 5 minute. Voeg die grondboontjiebotter, klappermelk, suurlemoensap, water en suiker by. Laat prut vir 10 minute. Ryg die gemarineerde hoender op die stokkies, een dytjie per stokkie. Braai die hoender in ’n warm pan of rooster dit onder die roosterelement van jou oond. (Ek vind laasgenoemde is die maklikste.) Sit voor saam met die saté-sous. Jy kan die spesery-sade met fyn speserye vervang.