Pluimvee

Indiese hoender-botterkerrie

Dié kerrie is nie baie sterk nie. Kinders sal daarvan hou en jy kan Bulgaarse jogurt daarby voorsit.

6 – 8 porsies

  • sap van 1 lemmetjie
  • 5 ml sout
  • 5 ml rooirissie-poeier
  • 18 hoenderstukke, vel verwyder
  • 6 heel naeltjies
  • 10 peperkorrels
  • 1 kaneelstokkie
  • sade van 4 kardemom-peule
  • 2 lourierblare
  • 10 heel amandels
  • 250 ml Bulgaarse jogurt
  • 45 ml sonneblomolie
  • 2 uie, fyngekap
  • 10 ml knoffelpasta
  • 5 ml gemmerpasta
  • 10 ml garam masala
  • 10 ml fyn koljander
  • 5 ml fyn komyn
  • 3 ml fyn borrie
  • 500 ml hoender-aftreksel
  • 45 ml botter
  • sout na smaak

Meng lemmetjiesap, sout en rooirissie-poeier saam. Smeer dit oor hoenderstukke en marineer vir 1 uur. Rooster naeltjies, peperkorrels, kaneel, kardemomsade, lourierblare en amandels in ’n pan tot effens bruin. Maal tot ’n growwe pasta met ’n stamper en vysel of voedselverwerker. Meng jogurt met growwe speserypasta en voeg by hoender. Laat marineer vir nog 1 uur. Verhit olie in ’n groot kastrol en braai uie tot bruin. Voeg knoffel-pasta, gemmerpasta en res van droë speserye by en braai vir nog 1 minuut. Voeg gemarineerde hoenderstukke by. Spoel bak waarin hoenderstukke gemarineer het met die hoender-aftreksel uit en voeg dit ook by. Kook alles saam oor matige hitte totdat helfte van sous afgekook het. Smelt botter en voeg by. Geur met sout.

Om te drink
’n Koue Cobra-bier! Daar is selfs ’n alkoholvrye weergawe beskikbaar.

Sit voor saam met vars koljander, Indiese naan-brood, atjar en gekapte brandrissies.