FOTO Lee Malan

FOTO Lee Malan

Pluimvee

Kaasbroodjie met hoender

Ek onthou nie veel van my besoek aan die Franse stad Toulouse nie, maar wat ek wel onthou, is die beste croquepoulet (kaas-en-hoenderbroodjie) en amandel-croissant wat ek al ooit in my lewe geëet het.

genoeg vir 4

• 8 snye witbrood
• 30 ml olyfolie
• 2 groot uie, gekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 30 g (30 ml) botter
• 30 ml koekmeel
• 250 ml melk
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 2 ml neutmuskaat
• 1 heel gaar hoender, vel en been verwyder, vleis in repe geskeur
• 100 g gruyère-kaas of ander wit kaas
• Dijon-mosterd

Rooster brood liggies. Maak ’n witsous: Verhit ’n pan oor matige hitte, gooi olyfolie in en braai uie en knoffel tot deurskynend. Voeg botter by en laat smelt. Voeg meel by en braai tot dit begin klonte maak. Verlaag hitte en voeg melk bietjie vir bietjie by. Roer aanhoudend met ’n draadklitser tot dik en gaar. Geur met sout en peper en neutmuskaat. Smeer 2/3 van witsous op elke sny brood. Verdeel hoender tussen 4 snye. Rasper helfte van kaas oor hoender en maak broodjies toe. Smeer oorblywende witsous bo-op broodjies en rasper res van kaas oor. Plaas op bakplaat, rooster onder element van oond tot kaas gesmelt is en bruin van kleur. Sit voor met mosterd.