Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS JUNIE/JULIE 2013

Pluimvee

Oondgebraaide babahoender met wortels en kruie

Ek hou daarvan om vir elke gas sy eie klein hoendertjie voor te sit. Jy hoef dan ook nie ʼn hoender in porsies op te sny nie.
(genoeg vir 4)

  • 4 piekeluie
  • 4 baba-hoenders
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 4 lourierblare
  • 8 vars salieblare
  • 4 takkies vars tiemie
  • olyfolie vir sprinkel
  • 20 klein kleurwortels
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • sap van 1 suurlemoen

Verhit oond tot 180 °C. Plaas ’n piekeluitjie in die holte van elke hoendertjie. Bind die beentjies van die hoenders aanmekaar vas met tou. Geur hoenders met sout en peper. Maak 4 kruiebossies met die lourierblare, salie en tiemie. Plaas ’n bossie op elke hoender en bind vas met tou. Sprinkel ’n bietjie olyfolie in ’n oondbraaibak en pak die worteltjies in een laag. Plaas hoendertjies bo-op wortels en smeer knoffel oor hoenders. Sprinkel met suurlemoensap en maak bak toe met tinfoelie. Plaas in oond en oondbraai 1 uur. Haal uit oond en haal tinfoelie versigtig af – onthou, wanneer jy die tinfoelie losmaak, kan stoom uit die bak ontsnap en dit kan brand. Bedruip hoendertjies met van die sous en plaas terug in oond. oondbraai oop vir nog 1 uur. Bedruip nou en dan met sous. Wanneer hoendertjies mooi bruin is, maak snytjie by dygedeelte om te kyk of dit gaar is. Haal bak uit oond. Verwyder hoenders en wortels en hou warm eenkant. Maak nou ’n sous.

Sous

  • 30 ml botter

Bring die sous wat in die pan agtergebly het tot kookpunt. Voeg botter by en kook tot dik en glansend. Geur met sout en peper indien nodig. Sit voor saam met hoendertjies en wortels.