Foto deur Donna Lewis SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Diabeties

Pannekoek met gerookte hoender op geroosterde groente

Resep deur Annerien Vermeulen

(6 porsies)

  • 3 gerookte hoenderborsies, in dun skyfies gesny
  • 100 g vetvrye fetakaas, in blokkies gesny

Pannekoek (maak 6 Pannekoeke)

  • 200 ml koekmeel
  • 2,5 ml sout
  • 5 ml bakpoeier
  • 60 ml hawersemels
  • 1 eier
  • 1 eierwit
  • 10 ml kanola-olie
  • 2,5 ml asyn
  • 350 ml vetvrye melk
  • kleefwerende kossproei

Geroosterde Groente

  • 800 g gemengde groente vir rooster, bv.

– rooi-uie, in kwarte gesny
– groen, geel en rooi soetrissies, in blokkies van 2 cm gesny
– sampioene, gehalveer
– murgpampoentjies, in ringe gesny
– wortels, in dun ringe gesny
– botterskorsie, geskil en in blokkies van 2 cm gesny (of koop ’n geroosterde-groentemengsel)

  • olyfoliesproei
  • sout en peper
  • 1 takkie roosmaryn, grofgekap
  • 15 ml bruinsuiker
  • 50 ml balsemasyn

Maak eers die Groente. Verhit die oond tot 200 °C. Plaas ’n oondpan in die oond sodat dit goed warm kan word. Haal uit en spuit met olyfoliesproei. Skep groente in die pan en spuit weer met sproei. Geur met sout en peper en roosmaryn. Plaas oondpan terug in oond en laat groente so 30 minute oondbraai. Haal uit en meng goed. Sprinkel bruinsuiker oor gevolg deur die balsemasyn. Plaas terug in oond en laat verder rooster vir 10 – 20 minute of totdat die groente sag is. Bedek met foelie en hou eenkant tot nodig.

Pannekoeke
Sif meel, sout en bakpoeier saam. Roer die hawersemels by. Klits die eier, eierwit, olie, asyn en melk saam. Klits die 2 mengsels saam tot daar geen klonte meer is nie. Laat staan 15 – 30 minute. Voeg nog bietjie melk by indien die mengsel te dik is. Spuit ’n pannekoekpan met kleefwerende kossproei. Laat die pan baie warm word. Skep ’n lepel van die beslag in die pan en bedek die hele bodem. Rangskik skywe gerookte hoender oor die halfrou pannekoek. Keer die pannekoek om sodra dit gaar is aan die onderkant, en braai verder tot gaar. Haal die pannekoek uit die pan en herhaal met die res van die beslag en gerookte hoender.

Samestelling
Verdeel die groente tussen 6 borde. Sny elke pannekoek in 4 kwarte en rangskik mooi bo-op die groente. Bedek met blokkies fetakaas. Jy kan die gereg ook verder garneer met gekapte pietersielie en gekonsentreerde balsemasyn.