weergawe by die huis
Kos

Barbara se gunsteling-broodjie – uit Portugal!

’n Lekker broodjie bly lekker en elke land het sy gunsteling. Hier by ons sal biltong op brood vir seker altyd ’n gunsteling bly. In Porto, Portugal, is die gereg hieronder ’n baie bekende broodjie wat jy in menige restaurant kan eet.

My man, Emile, het pas teruggekeer van Portugal. Terwyl hy in Porto was, het hy op Facebook ’n foto van ’n broodjie gedeel. As jy na die foto kyk, lyk dit nie soos ’n broodjie nie.

broodjie in Portugal

FOTO Facebook

Die broodjie se naam is Francesinha. In Portugees beteken dit “klein Frankryk”.

Daar word geglo dat die broodjie in die 1960’s deur Daniel da Silva ontwikkel is. Hy wou die Portugese weergawe van die croque-monsieur maak ná hy in Frankryk en België gewoon het.

Daar bestaan nie ’n standaardresep vir die gereg nie. Almal het hul eie weergawe, en die sous wat daarby voorgesit word, is ’n geheim.

Ek het toe oor die naweek ’n bietjie teruggesit terwyl Emile sy weergawe van hierdie bekende Portugese broodjie maak.

So waaruit bestaan die broodjie? ’n Tamatiebasis en bier is ’n moet in die sous. ’n Ui word gebraai tot sag en dan voeg jy tamatiepuree, knoffel, bier, lourierblaar, hoenderaftreksel, brandrissievlokkies, wyn, sout en peper by. Die sous kook vir ’n rukkie en word verdik met mielieblom. Jy gooi dit dan deur ’n sif.

Die broodjie self is nou ’n ander storie. Jy braai dun steaks en rooster 2 snye witbrood (2 vir elke persoon). Plaas 1 sny roosterbrood in ’n oondbak en plaas ’n hele paar snye ham bo-op. Dan plaas jy die steak bo-op. Jy sny weense worsies of chorizo in lang repe en plaas dit bo-op. Maak die broodjie dan toe met die ander sny roosterbrood.

En nee, ons is nóg nie klaar nie!

Jy pak nou lae en lae sterk cheddarkaas bo-op en plaas dit in ’n warm oond van 180°C tot die kaas gesmelt het. Plaas die broodjie in ’n diep sopbak en plaas 1 gebakte eier bo-op. Jy gooi dan die sous oor.

En dan is daar nóg.

Jy eet dit saam met tjips.

Ek moet bieg dit was een van die lekkerste broodjies wat ek nog geëet het.

Portugal se Francesinha sal vir seker weer ’n verskyning in my kombuis maak!

Lees nou

Dié TV-sjefs kook nie net in die kombuis nie

Amerikaners sien Kaapse Breestraat raak

Vleisloos met min moeite!