Foto deur Micky Hoyle
SARIE KOS JUN/JUL 2012

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS JUN/JUL 2012

Resepte

Aartappel-en-sampioen-slaai

Warm aartappelslaai is net so lekker soos die koue weergawe waarvan ons so baie hou.

(4 porsies)

  • 2 rooi-uie
  • 30 ml balsemasyn
  • 30 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 4 groot Mediterreense aartappels
  • 15 ml botter
  • 250 g heel wit sampioene
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 35 g mikro-kruie

Sous

  • 15 ml basiliepesto
  • 45 ml olyfolie

Verhit oond tot 180 °C. Sny elke ui in agt kwarte. Plaas in oondbraaibak en sprinkel asyn en 15 ml  van die olyfolie oor. Geur met sout en peper. Oondbraai vir 60 minute. Kook intussen die aartappels en hou warm. Verhit res van olyfolie en botter in pan. Voeg sampioene en knoffel by. Geur met sout en peper. Braai sampioene sowat 5 minute. Sny aartappel met vel en al in dik skywe. Plaas in opdienbak. Meng sous se bestanddele goed en gooi oor warm aartappels. Voeg mikro-kruie en sampioene by. Meng versigtig deur. Skep geroosterde uie by en sit dadelik warm voor.

Om te weet
Mediterreense aartappels se vleis is geel en dis fermer van tekstuur as ander aartappels. Vervang dit met klein baba-aartappels as jy dit nie kan kry nie.