Resepte

Slaai-dinge

  • Geposjeerde hoenderfilet – Meng 250 ml hoenderaftreksel met 250 ml water. Verhit in kastrol tot net onder kookpunt. Plaas hoender tussen 2 velle kleefplastiek en kap dit ’n bietjie dunner. Plaas hoender in aftrekselmengsel en posjeer oor lae hitte vir 8 minute. Skakel stoofplaat af en sit deksel op. Laat staan 20 minute tot gaar. Haal uit aftreksel en gebruik.
  • Hoe om soetrissies te rooster – Rooster vel van soetrissie oor ’n oop gasvlam of onder oond se roosterelement tot dit swart is. Plaas dadelik in ’n plastieksakkie en laat dit 10 minute daar tot die vel loskom. Vryf die velletjie af, haal die pitte uit en sny die soetrissie.
  • Laevet-basiliekruidpesto – Plaas die volgende bestanddele in ’n voedselverwerker: 50 g basiliekruid, 2 knoffelhuisies (gekap), 30 ml pampoenpitte, 30 ml gerasperde parmesaankaas, 15 ml olyfolie, 30 ml lemoensap, 15 ml suurlemoensap, sout en peper. Verwerk tot fyn.
  • Hardgekookte eier – Sit eiers in kastrol met koue water. Bring tot kookpunt. Plaas ’n deksel op kastrol sodra water kook en haal af van hitte. Los eiers so 13 minute in kastrol. Laat afkoel en verwyder dop.
  • Pita-croutons – 2 bruin pitabrode, olyfoliesproei, sout en peper: Verhit oond tot 200 °C. Sny die pitabrode dwarsgewys in die helfte. Sny elke helfte in kwarte (jy het m.a.w. nou 16 kwarte). Spuit elke pitakwart met olyfoliesproei en geur met sout en peper. Plaas in oond en bak tot croutons ligbruin en bros is. Sit voor met slaai.
  • Heuning-lemoen-slaaisous – Meng die volgende saam: 30 ml heuning,30 ml vars lemoensap, 15 ml sojasous, 2,5 ml kerriepoeier en 1 ml peper.
  • Olievrye slaaisous – Meng 10 ml heuning, 5 ml gekapte vars dille, 1 ml swartpeper, 60 ml water, 10 ml witwyn-asyn, en 5 ml Dijon-mosterd. Verkoel tot benodig.