Foto deur Micky Hoyle
SARIE KOS JUN/JUL 2012

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS JUN/JUL 2012

Resepte

Warm caprese-slaai op bruschetta

Caprese-slaai is ʼn bekende Italiaanse gereg wat altyd koud voorgesit word. Rooster ʼn slag die tamaties en pak alles op ʼn bruschetta- ʼn maal op sy eie.

(4 porsies)

  • 4 groot roma-tamaties, gehalveer in lengte
  • 60 ml olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 4 spaanse worse (chorizo), in skywe gesny
  • 4 snye suurdeegbrood
  • 150 g sagte mozzarella-kaas
  • 30 g vars basilieblare
  • 35 g mikro-kruie

Verhit oond tot 180 °C. Plaas tamaties in oondbak en sprinkel helfte van olyfolie oor. Geur met sout en peper. Oondbraai vir 30 minute. Draai tamaties om en oondbraai nog 10 minute. Verhit intussen res van olie in ’n pan en braai worse sowat 10 minute. Hou die olie. Verhit ’n riffelpan en braai brood weerskante tot bros. Plaas brood op opdienbord en skep van die geroosterde tamaties bo-op. Breek mozzarella-kaas in stukke en plaas bo-op. Skep worsies bo-op en sprinkel basilieblare en mikro-kruie boop. Sprinkel die olyfolie waarin die worsies gebraai is bo-oor. Sit warm voor.

OM TE WEET
Wat is bruschetta?
Dis Italiaans van oorsprong en dateer uit die 15de eeu. Brood word gerooster of gebraai. Dan word dit met vars, fyngekapte knoffel gesmeer en olyfolie word bo-oor gesprinkel. Eet as hoofgereg of as peuselhappie.