Resepte

Botterskorsiesop met spinasieslaai

(4 – 6 porsies)

Sop

  • 25 g ongesoute botter
  • 1 ui, fyngekap
  • 10 ml koljandersaad, gerooster en fyngemaal
  • 700 g botterskorsie, in klein blokkies gesny
  • 1,5 liter hoender-aftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Smelt die botter in ’n groot kastrol. Voeg die ui by en braai sowat 5 minute lank tot sag en deurskynend. Voeg die koljandersaad en botterskorsie by en braai vir 2 minute. Voeg die hoenderaftreksel by en geur met sout en swartpeper. Bring tot kookpunt en kook so 15 minute tot sag en gaar. Gooi die mengsel in jou voedselverwerker en versap tot ’n gladde, sagte mengsel. Druk die sop deur ’n sif en giet dit weer in ’n kastrol en verhit. Geur weer met sout en swartpeper indien nodig.

Slaai

  • 2 handevol baba-spinasieblare, grofgekap
  • 15 ml sesamsaad, gerooster
  • 5 ml sesamolie
  • 8 ml sojasous
  • 1 rooi brandrissie, baie fyn gekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Gooi die spinasieblare in ’n bak en voeg die sesamsaad, sesamolie, sojasous en brandrissie by. Meng goed. Geur met sout en peper. Skep van die slaai bo-op die sop wanneer jy dit voorsit.

Om te drink
Hillcrest naby Durbanville se ongehoute chardonnay is vol tropiese geure en het ’n botteragtige tekstuur. Perfek by botterskorsiesop.