Foto deur Donna Lewis SARIE JULIE 2014-uitgawe

Resepte

Bruinuie-en-chorizosop

Die geheim van dié Franse sop is om die uie lank en stadig te braai, want dis dié proses wat sorg vir al die geur.
genoeg vir 6 – 8

  • 50 g (55 ml) botter
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 4 bruinuie (600 g), in dun ringe gesny
  • 35 g (60 ml) meel
  • 250 ml witwyn
  • 2 liter goeie beesaftreksel
  • 5 takkies tiemie
  • 2 lourierblare
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 45 ml brandewyn
  • 45 ml olyfolie
  • 6 chorizoworse (of Spaanse wors) in die lengte gehalveer

Smelt botter in ’n groot kastrol. Braai knoffel tot lig en deursigtig. Voeg uie by en verlaag hitte. Braai uie oor lae hitte vir 15 – 20 minute of tot bruin en sag. Dis belangrik om nie haastig te wees nie, want dís wat die geur na vore bring. Voeg meel by en meng goed. Gooi wyn by en laat kook weg. Voeg aftreksel, tiemie en lourierblare by. Verlaag die hitte en laat prut vir sowat 30 minute of tot die vloeistof met die helfte verminder het en die sop begin verdik. Geur goed met sout en peper. Voeg brandewyn by en bring weer tot kookpunt. Verhit olyfolie tot warm in braaipan en voeg wors by. Braai vir 5 – 8 minute of tot goudbruin. Sit voor saam met sop.