Foto deur Micky Hoyle SARIE AUGUSTUS SEPTEMBER 2014

Resepte

Franse uiesop

’n Gereg wat jy in elke restaurant in Parys sal kry. Saam met die brood maak die sop ’n volledige maaltyd.

Genoeg vir 6
• 30 ml olyfolie
• 50 g (55 ml) botter
• 10 bruin uie, geskil en in ringe gesny
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 45 g (80 ml) koekmeel
• 2 liter beesaftreksel
• 250 ml witwyn
• 1 lourierblaar
• 2 takkies vars tiemie
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 1 Franse brood
• 200 g gruyère-kaas, gerasper

Verhit olie en botter saam in ’n groot kastrol. Voeg uie by en roer tot goed bedek met olie en botter. Verlaag hitte en maak kastrol toe met deksel. Braai 25 minute tot uie sag en gekaramelliseerd is. Roer nou en dan. Haal deksel af en voeg knoffel en meel by. Roer goed. Voeg aftreksel, wyn, lourierblaar en tiemie by. Geur met sout en peper. Laat 25 minute oop prut. Verhit rooster-element van oond. Sny Franse brood in snye. Skep sop in opdienbakkies. Plaas bakkies op ’n bakplaat. Plaas snye brood bo-op sop en sprinkel baie kaas bo-op. Rooster onder rooster-element tot kaas gesmelt het. Haal versigtig uit en sit dadelik voor.