Pasta

Gesonder hoender-pastasop

(8 porsies)

porsiegrootte: 1 ruim sopbakkie

  • 1 heel hoender (sowat 1,3 kg met vel, 1 kg sonder vel)
  • 10 ml sonneblom- of canola-olie
  • 2 middelslag-uie, grofgekap (250 g)
  • 3 middelslag-wortels, in dun skyfies gesny (300 g)
  • 3 selderystingels en blare, gekap (100 g)
  • 2 liter hoenderaftreksel
  • sowat 750 ml kookwater
  • 5 takkies vars pietersielie (sowat 25 g)
  • 5 ml droë tiemie
  • 2 lourierblare
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 100 g rou durumpasta, bv. penne, rigate of spaghetti in stukke gebreek
  • gekapte pietersielie om oor te strooi

Sny hoender in stukke, verwyder oortollige vet en trek al die vel af, behalwe dié van die vlerkies. Verhit olie in ‘n drukkoker en braai hoenderstukke tot dit verkleur. Voeg uie, wortels en seldery by hoender en roerbraai totdat uie deurskynend is. Voeg die hoenderaftreksel en net genoeg kookwater by om die hoender en groente te bedek. Bring tot kookpunt en skep die skuim af wat boop vorm. Voeg pietersielie, tiemie en lourierblare by. Plaas drukkoker se deksel op en sluit dig. Drukkook vir 30 minute teen 100 kPa. Verwyder van hitte en laat afkoel totdat die druk in die kastrol normaal is voor jy die deksel afhaal. (Indien jy nie ‘n drukkoker het nie, kook die hoender vir 2 uur in ‘n groot kastrol met ‘n deksel.) Haal hoender uit drukkoker, verwyder bene en sny hoendervleis fyn. Voeg hoendervleis en pasta by die aftreksel, asook res van 750 ml kookwater en kook sonder ‘n deksel totdat pasta sag en gaar is. Geur sop na smaak met sout en peper.

Sit so voor:

Strooi gekapte pietersielie oor voor jy die sop voorsit.

Kooktyd:

‘n Drukkoker verkort die kooktyd aansienlik.

Sonder vel:

Deur die hoendervel en vet vooraf te verwyder, maak jy seker dat die vet nie die vleis tydens die kookproses binnedring nie. Só spaar jy sowat 5 g vet per porsie.

Geur:

Die hoenderbene in die sop sorg vir geur en voedingstowwe soos kollageen, minerale en vitamiene wat daaruit onttrek word tydens die kookproses.