Foto's deur Micky Hoyle

Resepte

Koue rooi-soetrissiesop

(8 porsies)
Die verrassing
Skink die koue sop in glase, skep crème fraîche bo-op en sprinkel peper oor. Nou dink die gaste hulle kry melkskommels wat met styfgeklopte room en sjokolade versier is!

  • 4 rooi soetrissies
  • 250 ml room
  • 125 ml melk
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • sowat 120 ml crème fraîche

Verhit oond se roosterelement. Sit soetrissies op bakplaat in oond. Rooster en draai rissies sodat vel reg rondom swart raak. Haal uit, plaas in bak en maak onmiddellik toe met kleefplastiek. Laat staan sowat 30 minute – dan is dit makliker om die vel van die rissies af te kry. Verwyder vel en sit in versapper of voedselverwerker. Kap baie fyn en voeg room en melk by. Geur met sout en peper. Laat koud word in yskas. Skep in glase, versier met crème fraîche, sprinkel swartpeper oor en sit voor met strooitjie.