FOTO Donna Lewis SARIE JULIE 2014

Resepte

Mielie-en-speksop

Mielies is heel bekostigbaar en word binne minute gaar. Koop bevrore mielies vir die sop en garneer met losgesnyde pitte van heel mielies.

genoeg vir 6 – 8

• 40 g (45 ml) botter
• 45 ml olyfolie
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 1 x 250 g-pak spek, grofgekap
• 1 x 500 g-sak bevrore mieliepitte
• 500 ml hoenderaftreksel
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 250 ml room
• 1 rooi brandrissie, fyngekap
• 2 heel geelmielies

Verhit botter en olie tot warm in middelslagpot. Voeg ui en knoffel by en roerbraai vir 3 – 5 minute of tot ui begin verbruin. Voeg spek by en braai nog 5 – 8 minute of tot bros. Voeg mieliepitte by en braai vir ’n verdere 5 – 8 minute. Gooi aftreksel by en bring tot kookpunt. Geur goed met sout en peper. Laat kook vir 5 – 8 minute of tot mielies sag en gaar is. Gooi room by en kook nog 5 minute. Voeg brandrissie by en verpulp met staafmenger (stick blender) tot gladde, romerige sop. Kook heel mielies in pot met kookwater vir sowat 8 – 10 minute. Sny die gaar pitte los van die stronke en strooi dit bo-oor sop vir die voorsit.