FOTO: Micky Hoyle

FOTO: Micky Hoyle

Resepte

Tamatie-en-soetrissiesop met kaaspoffers

(6 – 8 porsies)

sop

  • 3 rooi soetrissies (gewas)
  • 8 – 10 groot tamaties (1 kg) of 4 x 410 g-blikke heel tamaties
  • 50 ml olyfolie
  • 2 middelslag-uie, geskil en fyngesny
  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • 200 ml rooiwyn
  • 1 liter hoenderaftreksel (60 ml hoenderaftrekselpoeier opgelos in 1 liter kookwater)
  • 5 ml suiker (opsioneel)
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Sny soetrissies middeldeur, verwyder pitte en plaas met oop kante op foelie. Plaas onder roosterelement van oond en rooster tot swart. Trek velle af en hou eenkant. Laat staan die tamaties vir ‘n minuut in kookwater, trek dan skille af. Indien jy geblikte tamaties gebruik, sny jy net blikke oop. Verhit die olie in ‘n swaarboomkastrol, braai die uie en knoffel tot glasig, omtrent 1 – 2 minute. Voeg soetrissie, tamatie, rooiwyn, hoenderaftreksel, suiker en geurmiddels by. Laat prut vir 20 – 30 minute. Verpulp in ‘n voedselverwerker en gooi terug in kastrol. Verhit as jy die sop warm voorsit, of bêre in yskas.

kaaspoffers
(25 – 30 klein poffers)

  • 250 g gladde maaskaas
  • 100 g gruyère-kaas, gerasper (of enige harde kaas met ‘n sterk smaak soos parmesaan of beleë cheddarkaas)
  • hand vol vars basiliekruidblare, gesnipper (sowat 80 ml)
  • halwe hand vol vars origanumblare, gesnipper (sowat 40 ml)
  • skil van ½ suurlemoen
  • 125 ml broodkrummels
  • 60 ml SF’s Egyptian Dukkha gemeng met 125 ml broodkrummels

Meng maaskaas, gruyèrekaas, basilieblare, origanum, suurlemoenskil en broodkrummels. Skep teelepels vol uit en vorm balletjies. Rol die kaasballetjies in die Dukkha-mengsel. Sit kaasballetjies in ‘n houer en verkoel in die yskas vir 1 – 2 uur of in die vrieskas vir ‘n halfuur. Sit bakkies sop voor met 3 – 4 kaaspoffers bo-op elke bakkie. Snipper bietjie vars origanum of basiliekruid bo-op. Die kaaspoffers kan ook as voorgereg op blare met ‘n lekker slaaisous voorgesit word.