sk08_2kaas03
Resepte

Uiesop met gruyèrekaas-crostini

(6 porsies)

• 50 g (sowat 50 ml) botter
• 1 kg wit uie, dun gesny
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 45 g (80 ml) meel
• 2 liter hoenderaftreksel
• 250 ml witwyn
• 1 lourierblaar
• 2 vars tiemietakkies
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 6 snye Franse brood
• 100 g gruyèrekaas, fyngerasper

Smelt die botter in ’n groot kastrol. Voeg die uie by en braai vir omtrent 25 minute tot dit begin bruin word en karamelliseer. Voeg die knoffel en meel by en braai verder vir 2 minute. Roer so elke nou en dan. Giet die aftreksel en wyn geleidelik by terwyl jy aanhoudend roer. Voeg die lourierblaar en tiemie by, en geur met sout en peper. Bring die sop tot kookpunt. Sit ’n deksel op en verlaag die hitte. Kook stadig vir 25 minute. Verhit die roosterelement van die oond. Rooster die Franse broodsnye weerskante. Skep die sop in opdienbakkies en plaas ’n sny geroosterde brood bo-op elkeen. Sprinkel die kaas oor en plaas weer onder die roosterelement tot die kaas gesmelt het. Versier met ’n takkie vars tiemie, en sit onmiddellik voor.