Resepte

Uiesop

Jy moet baie van uie hou om hierdie sop te geniet. Die broodjes bo-op maak dit ʼn volledige maaltyd.
(genoeg vir 4 – 6)

  • 50 g (55 ml) botter
  • 1,2 kg uie (wit), gehalveer en in skywe gesny
  • 45 ml brandewyn
  • 15 g (15 ml) bruinsuiker
  • 20 g (30 ml) koekmeel
  • 1,4 liter beesaftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Smelt botter in ’n groot pan. As jy ’n kastrol gebruik, sal die uie baie langer braai. voeg uie by die botter en braai sowat 20 minute oor matige hitte tot bruin. verhoog hitte en braai die uie tot goudbruin. voeg brandewyn, suiker en meel by. Meng goed en braai nog sowat 5 minute. voeg aftreksel by, geur met sout en peper en laat kook oop vir 10 – 15 minute. Maak intussen die broodjies wat bo-op kom.

Broodjies

  • 1 Franse brood
  • botter om brood mee te smeer
  • sowat 200 g gruyère-kaas
  • gemengde mikrokruie

Verhit oond se rooster-element. Sny Franse brood in snye. Plaas op bakplaat en onder rooster-element. rooster tot goudbruin weerskante. Smeer een kant van elke sny met botter en plaas kaas bo-op. Skep sop in plat sopborde en sit brood binne-in sop. Plaas borde op bakplaat en plaas onder rooster-element tot kaas gesmelt het. Haal bakplaat met sop uit oond. Wees versigtig, die sopborde is baie warm. Sprinkel mikrokruie bo-op en sit voor.