sarie_0120
Resepte

Lekkerste aartappelslaai

6 porsies

• 1,5 kg baba-aartappeltjies
• 150 ml romerige mayonnaise
• 100 ml tangy mayonnaise
• 100 ml Bulgaarse jogurt
• 9 sprietuie, grofgekap
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
• 4 hardgekookte eiers, gehalveer
• 1 rooi-ui, in dun skywe gesny

Kook die aartappels tot net sag. Dreineer en laat koud word. Trek die skille van die aartappels af. Meng die twee soorte mayonnaise, jogurt en sowat driekwart van die sprietuie. Geur die sous met sout en swartpeper. Meng die sous versigtig met die aartappels. Rangskik die eiers bo-op en sprinkel die res van die sprietuie oor. Rangskik die uieskywe bo-op.


WENK: Hoe om eiers te kook

Plaas die eiers in ’n kastrol met water. Bring tot kookpunt en kook vir 5 minute. (Ek hou van die eiergeel nie heeltemal hardgekook nie.) Haal ná 5 minute die kastrol van die stoof af en gooi die kookwater af. Gooi dadelik koue water op die eiers sodat die kookproses ophou. Laat afkoel voor jy die dop verwyder. Rol die eiers op ’n werkoppervlak sodat die dop oral kraak. So kry jy die dop makliker af.