Gebak

Spinasiepastei

(4-6 porsies)

  • 1 pak (400 g) bevrore blaardeeg
  • 10-15 vars spinasieblare
  • 2 uie, fyngekap
  • 3 eiers, geklits
  • 125 ml room
  • sout en peper na smaak
  • 2 opgehoopte eetlepels parmesaankaas

Ontdooi die blaardeeg tot net hanteerbaar. Smeer ‘n vlak tertbak met botter en rol die deeg rofweg daarin uit. Was die spinasieblare goed skoon en sny die wit stingels uit. Kook die spinasie sonder ekstra water in ‘n kastrol tot net slap. Verwyder, laat afkoel en druk met jou hande so droog moontlik. Kap grof. Sit die spinasie in ‘n mengbak saam met uie, eier, room, sout en peper. Die mengsel moet slap en nie te fyn wees nie. Skep in die tertdeeg en strooi parmesaankaas bo-oor. Bak teen 180 ºC vir 45 minute of tot tert gestol het. Sit warm, louwarm of koud voor.