Foto deur Micky Hoyle

SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS APRIL/MEI 2013

Resepte

Aspersie-risotto met geposjeerde eier

Wanneer die eier oopgebreek word en die eiergeel oor die risotto loop, word die gereg lekker romerig.
(Genoeg vir 4)

  • 15 ml olyfolie
  • 15 g (15 ml) botter
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 375 ml arborio-rys
  • 250 ml witwyn
  • 2 liter warm hoenderaftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 200 g groen kort aspersies
  • 130 g parmesaankaas, gerasper
  • hand vol vars basiliekruidblare, grofgebreek
  • 4 eiers
  • 100 ml witwyn-asyn
  • basiliekruid-mikrokruie

Verhit olyfolie en botter saam in ’n diep pan of kastrol. voeg ui en knoffel by en braai tot sag en deurskynend. Die ui moenie bruin braai nie. Voeg rys by en braai sowat 1 minuut terwyl jy roer. Voeg wyn by en hou aan roer. Die wyn moet feitlik weggekook wees voor jy die aftreksel met ’n soplepel begin byvoeg. Skep een lepel aftreksel op ’n slag by rys en hou aan roer. Herhaal tot rys sag is en aftreksel op is. Geur met sout en peper. Die hele proses sal so 40 minute duur. Sowat 15 minute voor die risotto gereed is, plaas aspersies in ’n bak en gooi kookwater oor. Laat staan so 10 minute en dreineer. voeg by rys. voeg kaas en basiliekruidblare by. Meng goed. Hou warm en posjeer nou die eiers. gooi water in ’n kastrol – so halfvol. Voeg asyn by. Bring tot kookpunt. Breek ’n eier oop in ’n koppie. roer die water in die kastrol in een rigting totdat ’n maalkolk vorm. Gooi die eier versigtig in die middel van die maalkolk. Laat staan en moenie verder roer nie. Wanneer die eierwit gestol het, lig die eier versigtig uit met ’n gaatjieslepel. Herhaal met res van eiers. Skep ’n porsie risotto op elke gas se bord en skep ’n geposjeerde eier bo-op. Sprinkel mikrokruie oor en sit voor.