Foto's deur Donna lewis

Resepte

Baba-beet-carpaccio met aspersies

4 – 6 porsies

  • 15 ml olyfolie
  • 15 ml heuning
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 6 baba-bete, geskil
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 400 g baba-aspersies
  • 250 g (3 koppe) babagemslaai
  • 250 ml Bulgaarse jogurt
  • hand vol kruisement, fyngekap
  • 15 ml vars tiemie, fyngekap
  • handvol mikro-kruie

Verhit oond tot 200 ºC. Meng olyfolie, heuning en knoffel. Sit beet in tinfoelie en gooi olyfolie-mengsel oor. Geur goed met sout en peper en draai toe. Plaas in warm oond en bak vir 25 – 35 minute of tot beet sag en gaar is. Bring pot met water tot kookpunt en dompel aspersies daarin vir 30 sekondes. Dreineer en dompel vinnig in koue water. Gebruik skerp mes en sny gaar beet in dun skywe. Halveer aspersies in die lengte. Breek slaaikoppe se blare los en spoel af. Pak op opdienbord en plaas beet en aspersies bo-op. Meng jogurt, kruisement en tiemie. Geur goed met sout en peper. Skep jogurt oor slaai en sprinkel mikro-kruie oor.