Foto deur Lee Malan

Foto deur Lee Malan

Resepte

Falafel-burger met kruie-jogurt

(6 porsies)

Patty

  • 1 x 400 g-blik kekerertjies (chickpeas), gedreineer
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • hand vol vars koljander, fyngekap
  • 10 ml fyn komyn
  • 10 ml fyn koljander
  • 1 eier
  • 150 ml koekmeel (plus ekstra vir uitrol)
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 45 ml olyfolie

Kruie-jogurt

  • 60 ml Bulgaarse jogurt
  • sap en skil van 1 lemmetjie
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • hand vol vars kruie van jou keuse, fyngekap

Plus

  • 6 rog-broodrolletjies (sien resep links)
  • 2 tamaties, in ringe gesny
  • 80g roketblare

Plaas kekerertjies, knoffel, vars koljander, komyn en fyn koljander in voedselverwerker. Puree by hoë spoed tot gladde mengsel. Voeg eier en koekmeel by en meng goed tot stywe, hanteerbare mengsel. Geur goed met sout en peper. Verdeel mengsel in 6 ewe groot porsies en vorm ronde patties met jou hande. Doop in ekstra koekmeel om te bedek. Verhit olyfolie tot warm in braaipan. Braai patties vir 5 – 8 minute per kant of tot goudbruin en gaar. Meng alles vir jogurt saam. Sny rolletjies in helfte en skep bietjie jogurt op een helfte. Pak tamatiesnye en roketblare bo-op. Plaas patty bo-op. Skep res van jogurt op en plaas ander helfte op elke rolletjie. Sit 6 burgers voor.

Wenke vir gesonder burger

  • Vervang romerige mayonnaise met jogurt wat jy geur met kruie. Dis net so lekker soos mayonnaise, maar bevat baie minder vet.
  • Maak seker jy sit genoeg vars bestanddele op jou burger, soos tamatie, ui en blaarslaai.
  • Eet rolletjies van minder verfynde graan soos volkoring of rog pleks van witbroodrolletjies.
  • Geniet eerder jou burger saam met iets soos oondgebakte botterskorsie of ’n groenslaai as met tjips wat in olie gebraai is.
  • As die lus na tjips jou oorweldig, maak oondgebakte tjips sonder olie.