SARIE KOS-uitgawes

Geroosterde groente-risotto

(4 – 6 porsies)

  • 600 g botterskorsie, in blokkies gesny
  • 6 heel knoffelhuisies
  • 2 rooi uie, in dik wiggies gesny
  • 2 rooi soetrissies, in dik skywe gesny
  • 100 ml olyfolie
  • growwe sout en varsgemaalde swartpeper
  • 400 g kersietamaties

Verhit jou oond tot 180 °C. Plaas die botterskorsie, knoffel, uie en soetrissies in ’n groot oondroosterpan en bedruip met die olyfolie. Geur met growwe sout en peper. Rooster vir ongeveer 20 minute, of tot die groente sag is. Voeg die kersietamaties by en rooster verder vir sowat 10 minute. Terwyl die groente in die oond rooster, kan jy met die risotto begin.

Risotto

  • 15 ml botter
  • 15 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 500 g (625 ml) arborio-rys
  • 5 ml borrie
  • 200 ml witwyn
  • sowat 2 liter hoenderaftreksel
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • handvol gerasperde parmesaankaas

Verhit die botter en olyfolie in ’n kastrol. Braai die ui en knoffel tot sag en deurskynend. Voeg die arborio-rys by en braai vir sowat 2 minute. Voeg die borrie en witwyn by en kook die wyn feitlik weg terwyl jy aanhoudend roer. Voeg die hoenderaftreksel soplepel vir soplepel by. Met elke byvoeging moet die aftreksel byna heeltemal afkook terwyl jy konstant aan die roer van sake bly. Geur met sout en peper wanneer jy voel die risotto is nou sag genoeg, en voeg die parmesaankaas by. Onthou, die risotto moet ’n lekker sousie hê en nie kurkdroog wees nie.

Basiliekruid-crostini

  • 6 snye Franse brood
  • olyfolie
  • basiliekruidpesto

Plaas die brood op ’n bakplaat en bedruip weerskante met ’n bietjie olyfolie. Rooster onder die roosterelement, sowat 2 minute aan elke kant, tot mooi bruin. Haal uit en smeer ’n bietjie basiliekruidpesto op elkeen. Skep die risotto in ’n bakkie en rangskik die geroosterde groente bo-op, saam met ’n crostini. Sit dadelik voor.

 

Om te drink

‘n Risotto is klassiek Italiaans, nes basiliekruid. Kies ’n kultivar van dieselfde land, soos pinot grigio (soms pinot gris genoem), by hierdie gereg. Van Loveren Pinot Grigio is ’n goeie keuse. Dis eenvoudig heerlik.