Resepte

Gesonder groente-terrien

6 skywe

Porsiegrootte: 1 skyf

  • 100 g groen aspersies
  • 100 g jong groenbone, stingels afgesny
  • 400 g baba-spinasieblare
  • 5 – 10 ml gekapte knoffel
  • 15 – 20 ml droë gelatien (20 ml op warm dae)
  • 100 ml water
  • 500 g gladde laevetmaaskaas
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 200 g klein rosa-tamaties

Voer ‘n bakkie van sowat 15 x 8 x 10 cmmet kleefplastiek uit. Kook aspersies en groenbone apart (so 3 – 5 minute elk) in soutwater tot brosgaar. Dreineer en laat afkoel. Kook spinasie in ‘n bietjie water tot net gaar. Dreineer en druk water uit. Kap spinasie en knoffel fyn in voedselverwerker. Week gelatien in water en verhelder oor kookwater (of in mikrogolfoond vir 20 sekondes op hoë stelling). Meng spinasie, maaskaas en gelatien tot glad. Geur na smaak met sout en swartpeper. Skep van die mengsel onderin bakkie. Pak aspersies teenaan mekaar, dan ‘n laag spinasiemengsel. Pak tamaties teenaan mekaar, dan ‘n laag spinasiemengsel. Pak laastens die groenbone teenaan mekaar en eindig met spinasiemengsel. Maak toe met kleefplastiek en laat oornag stol. Sny in skywe en sit voor.

Minder vet
Daar is eintlik net aan die vetinhoud verander deur gladde laevet-maaskaas pleks van roomkaas te gebruik.

Vry groentes
Dis ‘n kans om op vindingryke wyse ‘n verskeidenheid van die sogenaamde “vry groentes” (wat jy gerus vryelik kan eet), aspersies, tamaties en groenbone, voor te sit. ‘n Porsie gee meer as 3 g vesel.