Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Resepte

Gevulde artisjokke

Hierdie gereg  is van Italiaanse afkoms. Artisjokke is nou volop en dis glad nie so moeilik om gaar te maak soos mense dink nie
Baktyd: sowat 25 – 30 minute

  • 6 vars artisjokke
  • 45 g ciabattabrood
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 55g (60 ml) botter, gesmelt
  • 30 g Italiaanse pietersielie
  • 70 g parmesaankaas, fyngerasper
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 180 °C. Bring ’n groot kastrol met water tot kookpunt op die stoof. As jou artisjokke lang stele het, sny dit af sodat die bolle regop kan staan. Wanneer die water begin kook, sit die artisjokke in. Die lengte van die kookproses sal afhang van hoe groot die artisjokke is. Druk ’n skerp messie in waar die steel afgesny is. As dit sag is, haal die artisjokke uit die kookwater. Skep met ’n teelepel die sagte blare en hartgedeelte van die artisjok uit. Kap dit fyn. Kap ciabattabrood fyn in jou voedselverwerker. Voeg dit by die fyngekapte artisjokke en res van bestanddele. Geur met sout en peper en meng goed. Skep vulsel terug in uitgeholde artisjokbolle en plaas in oondbraaibak. Oondbraai 25 – 30 minute. Haal uit en sit warm voor.