Foto deur Micky Hoyle

Resepte

Groente-noedel-roerbraai

Veral lekker as van jou gaste slegs vegetaries eet. Jy kan die groente voor die tyd klaar opsny.
6 porsies

  • 45 ml sonneblomolie
  • 5 klein (piekel)uitjies, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 1 groen brandrissie, in lang skywe gesny
  • 250 g wit sampioene, in kwarte gesny
  • ¼ kool, in dun skywe gesny
  • 4 sprietuie, in lang skywe gesny
  • 100 g spruite
  • 100 g broccoli, in klein stukke gesny
  • 50 ml bamboeslote
  • 100 g kasjoeneute
  • 180 g noedels

Sous

  • 1 sitroengras-stingel, fyngekap (net die wit gedeelte)
  • 45 ml sojasous
  • 1 knoffelhuisie, fyngekap
  • 5 ml suiker
  • 5 ml suurlemoensap
  • 5 ml brandrissiesous

Verhit die olie in ’n wok of diep pan. Braai die uie, knoffel en brandrissie vir sowat 2 minute. (Sorg dat al jou groente omtrent dieselfde grootte gesny is sodat dit gelyk gaar word.) Voeg die res van die groente en neute by en braai vir sowat 5 – 8 minute. Die groente moenie pap gebraai wees nie, maar nog lekker bros. Kook intussen die noedels volgens die aanwysing op die pak. Meng al die bestanddele vir die sous saam. Wanneer jou groente en noedels reg is, gooi eers die sous oor die groente en voeg dan die noedels by. Meng goed deur.