Resepte

Labneh op bruschetta met kruisement

(4 – 6 porsies)

  • 1 liter Bulgaarse jogurt
  • 10 ml sout
  • 10 ml varsgemaalde swartpeper
  • 1 tuisgebakte brood, in snye gesny
  • 60 ml botter
  • 80 ml olyfolie
  • hand vol kruisement, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap sap en skil van 1 suurlemoen
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Meng jogurt, sout en swartpeper. Plaas ‘n stuk melkdoek in ‘n mengbak en laat melkdoek bo-oor rand van bak hang. Gooi jogurt in melkdoek en bring doek se punte bo saam. Draai in ‘n
stywe bal en bind stewig vas met kombuistou. Laat hang in yskas bo ‘n mengbak vir 2 dae sodat wei kan afdrup. Verhit ‘n riffelpan tot vuurwarm. Smeer snye brood met botter en braai weerskante tot goudbruin en bros. Meng olyfolie, kruisement, knoffel, sap en skil van suurlemoen. Sit vars labneh op warm bruschetta en sprinkel kruisement-pesto oor. Geur goed met sout en peper. Tradisioneel word die kaas saam met baie olyfolie, olywe en kruisement opgedien. Sit voor saam met geroosterde pitabrode as ‘n ligte happie.