Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS DES 2012/JAN 2013

Resepte

Nacho’s

(Genoeg vir 4)
Roostertyd: 5 minute

  • 250 g tortilla-tjips
  • 500 g krummel-maaskaas
  • 1 bottel (400 g) salsa
  • 200 g cheddarkaas, gerasper

Verhit rooster-element van oond. Verdeel tortilla-tjips in vier diep, oondvaste opdienborde. Skep krummel-maaskaas bo-op en skep sowat 3 eetlepels (45 ml) salsa bo-op maaskaas. Sprinkel ’n groot hand vol kaas bo-op en plaas onder die rooster-element tot kaas lekker gesmelt is. Sit voor saam met guacamole, gekapte brandrissies, suurroom en nog ekstra salsa.

Guacamole

  • 2 tamaties
  • 2 avokado’s
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 15 ml suurlemoensap
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Maak ’n kruisie net deur die skil aan die onderkant van die tamaties. Gooi kookwater oor en laat staan sowat 5 minute. Trek skil af. Sny tamaties oop en skep pitte uit. Gooi dit weg. Sny die tamatievleis in klein blokkies. Druk avokado’s fyn met vurk en voeg knoffel en suurlemoensap by. Geur met sout en peper. Voeg tamaties by en meng deur.