Pasta

Pasta met sonstraalsous

4 porsies

  • 2 x 250 g ryp brie-kaas, in oneweredige skywe gesny
  • 5 – 6 geurige, ryp tamaties, gehalveer en in dun ringe gesny
  • 2 groot hande vol vars basiliekruid, geskeur
  • hand vol vars roketblare
  • baie vars knoffel, fyngekap
  • seesout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • pasta van jou keuse
  • parmesaan-kaas, om te garneer

Sit al die bestanddele in ’n bak met die tamaties heel onderin, bedek met kleefplastiek en los vir ’n paar uur in die son – buite bereik van klein handjies en hondesnoete. Die hitte laat die dis fermenteer en ’n heerlike sous word so gevorm. Kook intussen pasta van jou keuse (ek hou van tagliatelle) en roer goeie olyfolie deur sodat dit nie aan mekaar vasplak nie. Roer die louwarm sous by die pasta, rasper parmesaan-kaas oor en sit dadelik voor. Jy kan alles ook in ’n oondvaste bak sit, met foelie toemaak en in die lou-oond sit tot ’n sous vorm.

Om te drink
Probeer ’n riesling. Theuniskraal is baie bekend vir hulle s’n.