Foto's deur Micky Hoyle

Foto's deur Micky Hoyle

Resepte

Blini-koekies gevul met gerookte forel

Dis ʼn klassieke kombinasie vir ʼn voorgereg. Ek verkies gerookte forel, want dis goedkoper as gerookte salm. Jy gebruik 4 blini’s per koekie.

Sowat 40 blini’s -8 porsies

  • 1 pakkie (10g) kits-suurdeeg
  • 125 ml warm water
  • 250 ml melk
  • 210 g(375 ml) koekmeel
  • 3 eiers, geskei
  • 1 ml suiker
  • 1 ml sout
  • 80g (90ml) ongesoute botter om blini’s in te braai

Meng suurdeeg en warm water saam in ʼn bakkie. Laat staan vir sowat 10 minute. Plaas die melk, meel, eiergele, suiker, sout en gesmelte botter saam in ʼn voedselverwerker. Voeg suurdeeg by en meng goed vir 2 minute. Maak voedselverwerker oop en skraap die kante daarvan skoon. Meng weer vir 2 minute. Gooi beslag uit in ʼn groot mengbak- groot genoeg dat die beslag ongehinderd kan rys. Maak bak toe met kombuislap en laat staan minstens 1 uur. Wanneer die mengsel goed gerys het, klits die eierwitte styf. Vou eierwitte versigtig in beslag. Smelt nog ʼn bietjie ongesoute botter. Verhit ʼn nie-kleefpan en smeer met ʼn bietjie van die gesmelte botter. Gebruik ʼn groot opskeplepel en skep van die beslag in die pan, so 3 op ʼn slag. Braai oor lae hitte aan die een kant. As daar borrels op die blini begin wys, kan jy dit omdraai en verder braai aan die ander kant. Haal uit en hou eenkant wanneer gaar. Braai res van blini’s. Moenie die blini’s warm hou nie.

VULSEL

  • 4 houers (230g elk) roomkaas
  • 30g grasuie, fyngekap
  • 400g gerookte forel

Meng een houer roomkaas met fyngekapte grasuie. Plaas ʼn blini op werkoppervlak en smeer ʼn lagie gewone roomkaas bo-op. Plaas ʼn stukkie gerookte forel bo-op. Plaas nog een blini bo-op. Smeer van die grasuie-romkaas bo-op. Sit nou weer ʼn blini bo-op. Smeer nog gewone roomkaas op en plaas ʼn stuk gerookte forel bo-op. Rond af met ʼn blini. Smeer roomkaas om die blini-stapel soos jy ʼn koek sal versier. Jy kan ook ʼn spuitsak gebruik om dit verder te versier. Maak so agt sulke koekies of meer.