sk08_2risotto05
Resepte

Gapermossel-risotto

(4 – 6 porsies)

  • 15 ml botter
  • 15 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 500 g (625 ml) arborio-rys
  • 250 ml witwyn
  • 1 blik (400 g) gekapte tamaties
  • sowat 1,5 liter hoender-aftreksel
  • 2 blikke (200 g elk) gapermossels, gedreineer
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • hand vol pietersielie, fyngekap
  • 125 g parmesaankaas, gerasper

Verhit die botter en olyfolie saam in ’n groot kastrol. Braai die ui en knoffel tot sag en deurskynend. Voeg die arborio-rys by en braai vir ongeveer 1 minuut. Voeg die witwyn by en kook dit omtrent heeltemal weg terwyl jy aanhoudend roer. Voeg nou die geblikte tamatie by en dan die aftreksel, ’n soplepel op ’n slag. Kook die aftreksel byna heeltemal weg, terwyl jy bly roer, voor jy nog byvoeg. Voeg die gapermossels ná so vyftien minute hiervan by. Hou aan met die byvoegproses tot die rys sag genoeg na jou smaak is. Dit duur altesaam sowat 25 – 30 minute. Die rys moenie droog wees nie, maar ’n lekker sousie hê. Geur met sout en peper. Voeg die pietersielie en die helfte van die kaas by. Sit dadelik voor saam met die orige kaas.

Om te drink

As jy die wyn wat in jou risotto is ook aan tafel bedien, vul die kos en wyn mekaar se geure aan. Zonnebloem Limited Release 2007 Semillon se fris soetrissie- en pynappelgeure pas lekker by seekos. Die volronde smaak en romerige tekstuur rond dié risotto voortreflik af.