FOTO Donna Lewis

6 uur tuis, eet half 7

Garnaal-kebabs met kekerertjie-puree

(4 – 6 porsies)
30 minute

• 500 g (sowat 24) steurgarnale, doppe verwyder en skoongemaak
• 4 knoffelhuisies, gekap
• hand vol pietersielie, gekap
• sap en skil van 2 suurlemoene
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 60 ml botter
• 1 ui, fyngekap
• 1 x 400 g-blik kekerertjies, gedreineer
• 150 ml melk
• 45 ml olyfolie

Ryg 4 garnale elk op ’n houtsosatiestokkie. Meng knoffel, pietersielie, sap en skil van suurlemoene. Skep oor garnale en geur goed met sout en swartpeper. Verhit botter in middelslagpot en voeg ui by. Braai liggies vir 5 minute of tot ui begin verbruin. Voeg kekerertjies by en braai vir nog 5 minute. Voeg melk by en bring tot kookpunt. Gooi mengsel in voedselverwerker en verwerk tot glad. Geur goed met sout en peper. Verhit olyfolie tot warm in middelslagpan. Voeg garnale by en braai vir sowat 5 minute per kant of tot goudbruin en gaar. Geur goed met sout en peper. Sit gaar kebabs voor met warm kekerertjie-puree.