Foto deur Micky Hoyle & Donna Lewis

SARIE KOS OKT/NOV 2012

Foto deur Micky Hoyle & Donna Lewis SARIE KOS OKT/NOV 2012

Resepte

Gebakte vis

Dis seker een van die bekendste Engelse kroeggeregte. Die vis word in baie olie gebraai-tipies soos dit in pubs gedoen word. Sit voor met aartappelskyfies- koop joune sommer bevrore.

  • 6 porsies bevrore stokvisfilette

Beslag

  • 120g (215ml) koekmeel
  • 1 eiergeel
  • 90ml bier
  • 1ml sout
  • 45ml melk, gemeng met 30ml koue water
  • 2 eierwitte
  • sowat 600ml sonneblomolie om vis in te braai

Sit die koekmeel in ʼn mengbak. Maak ʼn holte in die middel van die meel. Gooi die eiergeel, bier en sout in die middel van die holte. Meng baie goed, verkieslik met ʼn ballomklitser – dis die een wat sjefs gebruik. Maak seker dat daar geen klonte is nie. Voeg die melkwater geleidelik by en meng tot glad. Maak die bak met ʼn vadoek toe en laat die beslag minstens 30 minute rus. Klits die eierwitte tot sagte punte vorm. Vou nou by die beslag in. Verhit die olie in ʼn kastrol. Doop 2 tot 3 visfilette in die beslag en wanneer dit goed bedek is, sit dit versigtig in die warm olie. Braai  die vis sowat 4 tot 5 minute aan weerskante. Haal versigtig uuit  die warm olie. Dreineer op kombuispapier en herhaal met die res van die vis. Sit voor.