sk08_3pasta01
Pasta

Geblikte tuna met gebarste tamatie-sous

(4 porsies)

  • 120 ml olyfolie (dit klink baie, maar die olyfolie gaan die sous vorm)
  • 600 g klein rosa-tamaties
  • 2 knoffelhuisies, fyngekap
  • 2 vars origanum-takkies (gebruik net die blare) of 5 ml droë origanum
  • 100 g swart olywe, ontpit
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 500 g kort pasta
  • 2 blikke tunastukke, gedreineer (nie gevlokte tuna nie)
  • gerasperde pecorino- of parmesaan-kaas, om voor te sit

Verhit die olyfolie in ’n diep pan of kastrol. Voeg die tamaties en knoffel by. Versigtig, die tamaties gaan oopbars en spat. Wanneer die tamaties almal begin bars en met die olie meng, voeg jy die origanum en olywe by. Roer nou en dan vir so 10 minute op ’n warm plaat. Jy kan die tamaties platdruk om die sous uit te kry. Geur met sout en swartpeper. Kook die pasta volgens die aanwysings op die pak en dreineer. Voeg die tuna by die sous en meng versigtig. Laat dit vir so 5 minute warm word en sit voor op die pasta, met gerasperde kaas bo-oor.

 

Om te drink
Pinot gris (oftewel pinot grigio) se vrugtige, speseryagtige geure pas mooi by tuna- en tamatie. Uitkyk se Flat Roof Manor-etiket maak ’n lieflike een.