Resepte

Gebraaide sardientjies met slaai

(6 porsies)

  • 12 sardientjies
  • 30 ml growwe sout
  • 30 ml olyfolie
  • 30 ml olyfolie
  • 2 groen soetrissies, in dik repe gesny
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • suurlemoen-wiggies, om saam voor te sit

Spoel sardientjies goed af en verwyder skubbe. Sprinkel growwe sout oor en laat staan vir 1 uur. Spoel weer goed af. Sprinkel 30 ml olyfolie oor en smeer goed in reg rondom. Braai sardientjies op warm kole vir sowat 4 minute aan elke kant, of rooster 4 – 5 minute aan elke kant onder oond se roosterelement. Verhit 30 ml olyfolie in ‘n pan en braai soetrissies tot bruin
en sag. Geur met sout en swartpeper. Plaas soetrissies op sardientjies en sit voor met suurlemoen, Portugese slaai en rolletjies.

Portugese slaai

  • 4 tamaties, in kwarte gesny
  • olyfolie na smaak
  • 1 rooi-ui, in ringe gesny
  • 50 g ontpitte olywe
  • olyfolie, om oor te sprinkel
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Meng tamaties en olyfolie. Rangskik uieringe en olywe bo-op en besprinkel met ‘n klein bietjie olyfolie. Geur met sout en swartpeper.

Om te drink: Signall Hill Grenache Blanc