Foto deur Micky Hoyle SARIE KOS OKT/NOV 2012

Resepte

Gemarineerde mossels

Jy kan bevrore mossels vir dié gereg gebruik – nie almal is by die see waar hulle vars mossels van die rotse kan pluk nie.

  • 2 kg mossels
  • 125 ml olyfolie
  • 125 ml witwyn-asyn
  • 125 ml water
  • 10 ml paprika
  • sout na smaak
  • 2 lourierblare
  • 8 peperkorrels

Was die mossels deeglik en sit dit in ’n groot kastrol met ’n klein bietjie water. Laat die mossels oor baie lae hitte stoom tot die doppe oopgaan. (Die mossels wat nie oopgegaan het nie, moet jy weggooi.) Haal die mossels uit die skulp, maar moenie die skulpe weggooi nie. Verhit die olie in ’n groot pan en braai die mossels vir so 2 minute. Haal die mossels uit en laat die olie bietjie afkoel in die pan. Sit die pan terug op die stoof en voeg die asyn, water, paprika, sout, lourierblare en peperkorrels by. Laat stadig kook vir 10 – 15 minute. Laat afkoel en voeg die mossels by. Laat marineer oornag in die yskas. Sit die mossels terug in die skulpe en gooi van die sous oor.