Gebak

Gerookte salm-soufflé

(6 porsies)

  • 20 ml botter, gesmelt (om bakkies te smeer)
  • 250 ml melk
  • 20 ml botter
  • 1 klein ui, fyngekap
  • 30 ml meel
  • 3 eiergele
  • 200 g gerookte salm, fyngekap
  • 50 g fyn parmesaankaas
  • 1 takkie vars dille, fyngekap
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 5 eierwitte
  • crème fraîche en kaviaar (viseiers), om voor te sit

Verhit jou oond tot 200 °C. Smeer 6 ramekin-bakkies met die gesmelte botter. Verhit die melk effens. Smelt die botter in ’n kastrol en voeg die fyngekapte ui by. Braai vir sowat 3 minute tot sag en deurskynend. Voeg die meel by en roer tot ’n gladde pasta. Verwyder van die hitte en voeg die warm melk bietjie vir bietjie by. Plaas terug op die hitte en hou aan roer tot effens verdik. Voeg die eiergele een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Verwyder van hitte en voeg die salm, parmesaankaas en vars dille by. Geur met sout en peper. Klits die eierwitte styf. Vou eers ’n kwart van die eierwitte by die mengsel in, en daarna die res. Giet die mengsel in die ramekinbakkies, en trek met ’n mes al om die binnerand van elke bakkie sodat die soufflé hoog kan rys. Plaas bakkies op ’n bakplaat en bak vir 12 – 15 minute. Sit dadelik voor met crème fraîche en kaviaar.

 

Om te drink

Glen Carlou Chardonnay se rookagtige geure, vanweë die houtveroudering, vul die gerookte salm-geur aan.